
Na deeglike navorsing en nagte oor watter leerprogram aan ons kinders se behoeftes sal voldoen en hulle sal help om hul volle potensiaal te bereik, het ons gesin vier jaar gelede besluit op tuisonderrig.
Ons bly op ’n afgeleë plaas, ver van dorpe en skole en ons dogtertjie is met ADHD gediagnoseer. Ons wou graag “skool” huis toe bring, maar het iets nodig gehad wat by ons gesin se leefstyl, uitdagings en omstandighede sou pas. Impaq was ons antwoord.
Vandat ons die besluit gemaak het, is daar baie minder gejaagdheid in ons gesin, en die druk van buite affekteer nie meer my kinders nie – hulle is dolgelukkig en geniet elke skooldag tuis! Die bonus is dat ons kan reis wanneer ons wil, sonder om leertyd prys te gee, terwyl opdragte saam voltooi word en ons waardevolle gesinstyd saam spandeer. Dit bied ook vir ons kinders die geleentheid om kreatief te wees en hulself te ontdek.
Elke jaar word ons “Impaq-boks” met nuwe lesmateriaal opgewonde ingewag. Die leermateriaal is prettig en kleurvol, en die aanlynklasse is altyd ’n hoogtepunt.
Vir my as ma is die fasiliteerdersgidse ’n redding. Dit is gebruikersvriendelik en maak daaglikse beplanning soveel makliker. Boonop is die hulplyn altyd beskikbaar wanneer ons vrae het, en jy word altyd professioneel en vriendelik gehelp.
Leer is lekker in die Joubert-huishouding!